Inhoudsopgawe
* Hemelvaart en Pinkster * Koring & Onkruid * Die Onttrekking * Kerklike Dissipline * Indrukke van die VGK * Die nuwe Verbond (2) * Iran as kernmag * Tevrede met dit wat * Christus – ons ewige * Kannibale word kerklede * Lesedi la Ditshaba * Boekenuus
| Jaargang 21, No 5 My Broeder se Wagter? U herken waarskynlik hierdie woorde. Is ek my broeder se wagter? Die bekende woorde van Kain nadat hy Abel doodgeslaan het. Dan vra die HERE: Waar is jou broer? In die kerklike lewe het hierdie frase: ‘my broeder se wagter’, ʼn betekenis gekry van toesig op mekaar. Dat ons mekaar op die regte pad van die HERE hou. As ons van ʼn wagter praat, dan dink ons ook aan skape. En die Here Jesus gee aan Sy dissipels die taak om Sy skape te wei. En so kom ons uit by die amptelike betekenis van ‘my broeder se wagter’, naamlik die kerklike opsig en tug. Dit is dan een van die sleutels van die koninkryk wat die ampsdraers hanteer. Tug is een van die kenmerke van ware kerk wees. Ons word selfs by die aflegging van belydenis van die geloof laastens gevra of ons ons aan die Christelike vermaning en tug sal onderwerp. Wanneer die tug ter sprake kom, gaan dit dikwels meer oor die lewe as oor die leer: sondes soos owerspel en egskeiding, drankgebruik en kerkversuim. As dit goed is, begin die funksionering van die kerklike tug by die gelowiges onderling. Daarvoor is die aktiewe samewerking en meelewing van die gemeente nodig. Die tug is eintlik ʼn saak van gemeente-opbou. Ons is verantwoordelik vir mekaar. Tug kan dan die vorm aanneem van besoeke, indringende gesprekke en vermaning. Tug hoort in die gemeente, nie in die eerste plek op die kerkraadstafel nie. Maar hoe suksesvol is die kerklike tug? Wat word daarmee bereik? By die gemeente is daar dikwels weinig begrip vir die kerklike tug. Dit word meestal ervaar as straf. Dikwels is die resultaat onttrekking. Of dit eindig in eindelose beroepsprosedures by kerklike meerdere vergaderings. Werk die klassieke kerklike tug nog vandag? Of moet ons dalk ruimte maak vir ʼn vorm van bieg? Jou sondes aan die pastoor bely en dan met ʼn goeie lewe daarvoor boet? Pas die tug nog in ons postmoderne lewensgevoel? Wat het die kerk (of my broeder of suster) te make met my persoonlike lewe? Kan ons nie asseblief maar ʼn bietjie meer verdraagsaam wees nie? Ons lewe tog in ʼn sondige bestaan? Is dit werklik altyd ʼn kwessie van onwil? Of dalk tog onmag? Ek is tog sondig? Ek is nog jonk! Kan ek iets doen aan die opvoeding wat ek ontvang het? Of die kultuur waarin ek opgegroei het? Of het ons dalk milder en versigtiger geword? Is dit eerder die uitsondering dat iemand van die nagmaal afgehou word? Het ons dalk tog meer verdraagsaam geword? Liewer konfrontasie vermy? Dit klink baie simpatiek. Gee ruimte vir die psigiese nood van vandag. Wie is deesdae nie gestres nie. Dan moet jy kan ontlaai. Verstaan dit tog! Dit is heeltemal onskuldig: die vrye omgang met mekaar op ons feeste, die drankie waarmee ek so heerlik kan ontspan, die wegkom oor naweke, ... Dit blyk dat die tug maar ʼn turksvy op ons kerkraadstafels is. Daar is nie altyd duidelike Bybelse riglyne en kerklike afsprake nie. Baie wysheid word benodig. Daarom het die redaksie dit goedgedink om aandag te gee aan die kerklike tug. In hierdie uitgawe vind u drie artikels wat enkele aspekte belig. Soos wat in die burgerlike samelewing wet en orde gehandhaaf moet word, sal ons ook in die kerklike lewe dissipline moet toepas. Die geestelike tug is ʼn saak van lewe en dood. Dit gaan oor die behoud van my broeder of suster. Laat ons nie toelaat dat iemand hom- of haarself of ander aftrek van die gemeenskap met Christus nie.
Douwe Drijfhout is lidmaat van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria. |
