Voorblad


 


Inhoudsopgawe
  • Psalm 122: Die stad van vrede
  • Belowende Ooreenkoms met Hamilton
  • Kerknuus uit Nederland
  • Christendom, Kultuur en Christelike Kultuur (3)
  • God se verbondstrou is grensloos
  • Die geboorte van Christus
  • Welvaart en Welsyn


Jaargang 25 no 7

Julie 2016

 

Radikaal-wees

In die afgelope tyd hang daar ’n gevoel van onrus in die lug. Die terroriste-aanvalle hou nie op nie; elke nou en dan is daar weer die bekende, maar steeds skokkende, berig dat daar êrens in die wêreld ’n aanval was. ’n Mens sien ook beelde van die Amerikaanse verkiesingsveldtogte, waar die ondersteuners van die verskillende kandidate mekaar geweld aandoen. En hier by ons is die koerante vol van nuus oor jeugdiges wat universiteite, busse en monumente aan die brand steek.

Dit val op hoeveel jongmense aan al hierdie dinge deelneem. ISIS het ’n groot aantrekkingskrag vir die jeug. Dis opvallend hoe baie jongmense hulself entoesiasties agter die radikale boodskappe van die linkse ekstremis Bernie Sanders en ver-regse populis Donald Trump geskaar het.

Studies suggereer dat ’n mens se drang om deel te vorm van ’n groep, en dan spesifiek een wat betekenis aan jou lewe gee, op sy sterkste is wanneer jy pas uit die skool is en jy jou eerste smakie van onafhanklikheid kry. Dan wil jy, vol goeie moed, die wêreld verbeter en skaar jy jouself dan dikwels agter sterk, radikale figure of idees. In die laaste paar dekades is hierdie drang dikwels bevredig deur politieke ideale. Sommiges meen dat dit te doen het met die ontkerkliking van die samelewing. Waar kerklike aktiwiteite voorheen aan mense die gevoel gegee het dat hulle aan iets betekenisvol behoort, moet daardie ruimte nou deur iets anders ingevul word. Die gevolg is ongelukkig dikwels radikalisering en geweld.

Ons moet die erns van kerk-wees en veral van Christen-wees ook hierin sien. Om ’n radikale Christen te wees, beteken om jou lewe totaal en al aan Christus te gee. Om diensbaar te wees aan God en aan ons naaste. Om erns te maak met Christelike moraliteit. En veral om die sin van die lewe raak te sien binne die kon­teks van God se ewige beloftes.

Dit is die verskil. Die geloof gee betekenis aan ons lewe. Dit gee aan ons die geleentheid om alle ellende te kan relativeer, omdat ons weet dat God in beheer is. Ons mag boonop deel vorm van Christus se liggaam, van ’n versameling van gelowiges wat oor alle eeue heen strek. Is daar ’n beter groepsgevoel as om deel te wees van die verlossing van al die probleme en sondes om ons heen?

Dit is belangrik dat Christene en die kerk sigbaar is in ons wêreld, veral omdat mense dus duidelik op soek is na betekenis en deelname. Ons kultuur, ons identiteit en ons dryfkrag moet duidelik gevorm wees deur ons verlossing in Jesus Christus. By Christus is ons nie meer links of regs, arm of ryk, blank of swart, Griek of Jood, slaaf of vryman nie. Ons is almal verlos hiervan. Dit vorm ons volle identiteit.

Mag hierdie uitgawe van Kompas u hierin versterk en toerus.

Alex van Houwelingen, lidmaat van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria